Geskiedenis


Tydens die bou van die dam, was die meeste werkers gevestig in kampe aan die Ooste- en Westekant van die damwal. Naby Silkaatsnek was ook twee kampe vir die werkers wat die pad oor Silkaatsnek gebou het. In elke kamp was daar voorsiening gemaak vir ‘n tydelike skool vir die werkers se kinders en elke skooltjie was gebou van hout en klip.

Die skooltjies het bekend gestaan as Kampskole; elkeen met sy eie hoof. Met die voltooiing van die dam in 1924, is al die kampe opgebreek en het die skole verdwyn, behalwe Hartbees North School soos dit destyds genoem is. Hierdie skool was gehuisves in een van die Skema se tydelike geboue onderkant die wal en is in 1924 herdoop na Hartbeest Laerskool. In Desember 1953 is die skool permanent gesluit en oorgeplaas na Schoemansville waar die Laerskool Genl. Hendrik Schoeman vandag staan.

Die Laerskool Genl. Hendrik Schoeman het sy naam verkry van Genl. Hendrik Schoeman wat die eerste eienaar van die plaas Hartbeespoort was. Sy seun, Johan Schoeman, het die dorp Schoemansville uitgelê in 1923 en het toe die grond geskenk waarop die skool vandag staan.

Die Laerskool Genl. Hendrik Schoeman het op 12 Januarie 1954 amptelik geopen met 189 leerlinge en 6 personeellede. Dr. B.P. Botha was die eerste hoof. Op 22 Oktober 1954 is die skool geopen deur die destydse Direkteur van Onderwys, Dr. A.H. du P van Wyk. Op daardie stadium het die skool bestaan uit vyf klaskamers en kantoorgeriewe.

Deur die jare het die leerlingtal toegeneem sodat daar gereeld aanbouings moes plaasvind. Gradeklasse is eerste aangebou en later (1978) is ‘n dubbelverdieping bygebring met beter kantoorgeriewe, ‘n personeelkamer en biblioteek. In 1960 is die skoolsaal gebou. Die ouers moes R4 000 bydra en die departement R4 000. By die skool is ‘n borsbeeld van Generaal Hendrik Schoeman opgerig wat deur oom Casper Kruger aan die skool geskenk is. Die beeldhouer was Mnr. Hennie Potgieter.

Permanente hoofde sedert die opening van die skool in 1954, was Dr. B.P. Botha (1954 – 1959), Mnr. J.C. van der Westhuizen (1960 – 1963), Mnr. C. Bosman (1964 – 1972), Mnr. P.J. Smith (1973 – 1981), Mnr. J.H.C. du P Roos (1982 – 1996), Mnr. R.J. A. de Ridder (1996 – 2008), en tans Mnr. M. du Preez (vanaf 2008). Daar was ook tye dat hier waarnemende hoofde was soos Mnre. J.P. Coetzer, J. Fourie, G.R. Mulder, W.J. van Heerden, Dr. H.C.A. Bodenstein en P.J. van Wyk.

Die Skool Wapen


Die skoolwapen met sy kleure is deur Mnr. Hennie Potgieter ontwerp.

Die skoolwapen simboliseer die volgende:

Koringaar en tabak: Dit simboliseer die landbouprodukte wat hoofsaaklik in ons omgewing verbou word.

Seilbootjie: Dit verwys na die dam as deel van die omgewing waar die skool geleë is.

Veer en ink: Kennis en Opvoeding.

Die leuse van die skool spreek vir homself. ‘n Mens kan alleenlik flink vaar as jy elke dag pligsgetrou is en hard werk.